Roetering

By rekenaarnetwerke verwys die term roetering na die paaie waarlangs data in 'n rekenaarnetwerk versend word.

Roetering behels die aanstuur van pakkette, d.w.s. die aanstuur van logies geadresseerde pakkette vanaf hul bron na hul uiteindelike bestemming deur intermediêre nodusse (oftewel die roeteerders). Die roeteringsproses stuur die pakkette aan aan die hand van roetetabelle in die roeteerders, wat 'n rekord hou van die beste roetes na verskeie netwerkbestemmings. Die saamstel van roetetabelle is baie belangrik vir doeltreffende roetering.

Roetering verskil van 'n netwerkbrug in die opsig dat dit aanvaar dat adresstrukture wat soortgelyk aan mekaar is nabyheid aanmekaar impliseer, wat dit moontlik maak om 'n enkele roetetabel-inskrywing te gebruik om 'n roete na 'n groep adresse te verteenwoordig. Daarom is roetering meer doeltreffend as netwerkstrategie vir groot netwerke en het dit die belangrikste metode vir die ontdekking van datapaaie op die Internet geword.

Klein netwerke kan klein handopgestelde roetetabelle bevat. Groter netwerke behels komplekse netwerktopologieë en kan voortdurend verander, wat die handmatige opstel van roetetabelle baie problematies maak. Nietemin gebruik die meeste openbare geskakelde telefoonnetwerke gebruik voorafberekende roetetabelle, met alternatiewe rugsteunroetes as die mees direkte roete nie beskikbaar is nie. Dinamiese roetering probeer om die probleem op te los roetetabelle outomaties op te stel, gebaseer op inligting wat deur roeteringsprotokolle oorgedra word en stel die netwerk in staat om bykans onafhanklik netwerkfalings en blokkasies te omseil.

Dinamiese roetering is die dominante roeteringstrategie op die Internet. Die verstelling van die roeteringsprotokol vereis egter dikwels 'n hoë mate van vaardigheid en kan daar nie goedsmoeds aanvaar word dat netwerktegnologie sover gevorder is dat roetering geheel en al outomaties kan plaasvind nie.

Pakket-geskakelde netwerke, soos die Internet, verdeel data op in pakkette, wat elkeen 'n etiket kry wat die volledige bestemmingsadres bevat en word dan afsonderlik oor 'n bepaalde roete versend. Stroombaangeskakelde netwerke, soos die telefoonnetwerk, doen ook roetering ten einde geskikte paaie vir stroombane te vind (soos vir 'n telefoonoproep) waaroor groot hoeveelhede data versend kan word sonder om voortdurend die bestemmingsadres te herhaal.

Die hardeware wat gebruik word tydens roetering is Ethernet-skakelaars en roeteerders.

In 'n koordlose netwerk word betroubare data-aflewering beheer deur middel van meganismes soos ontvangserkennings, sekwensiële numering en vloeibeheer.

Die IEEE 802.11-standaard spesifiseer die gebruik van die CSMA/CA-protokol (Carrier Sense Multiple Access with Collision Avoidence). Ingevolge hierdie protokol sal 'n nodus wat 'n datapakkie wat gestuur moet word ontvang, eers seine soek om seker te maak geen ander nodus saai uit nie.

Indien die kanaal skoon is, sal dit die datapakkie uitsaai, anders sal dit lukraak 'n tyd bepaal wat die nodus moet wag totdat dit toegelaat word om die pakkie uit te saai. Gedurende die tye wanneer die kanaal skoon is, sal die uitsaaiende nodus sy terugstaanteller sistematies laat aftel (wanneer die kanaal besig is sal die terugstaanteller stilstaan). Wanneer die terugstaanteller nul bereik sal die nodus weer probeer om die datapakkie te stuur. Aangesien die waarskynlikheid dat 2 nodusse dieselfde terugstaantydfaktor sal kies baie skraal is, word die kans op 'n botsing tussen datapakkies dus geminimiseer.

Botsingsopsporing, soos deur die Ethernet gebruik, kan nie gebruik word by die radiofrekwensietransmissie van IEEE 802.11 nie, aangesien 'n nodus wat uitsaai nie enige ander nodus in die stelsel wat ook besig is om uit te saai kan hoor nie (sy eie sein sal enige ander sein wat opdaag uitdoof).

Wanneer 'n datapakkie uitgesaai gaan word, sal die transmiterende nodus eers 'n kort gereed-om-uit-te-saai (RTS) pakkie uitstuur wat inligting oor die lengte van die datapakkie bevat. Wanneer die ontvangende nodus die RTS hoor, sal dit reageer met 'n kort gereed-om-te-stuur (CTS) pakkie. Na hierdie uitruiling stuur die transmiterende nodus die datapakkie. Wanneer die datapakkie suksesvol ontvang word, soos vasgestel deur 'n sikliese oortolligheidstoets (CRC), sal die ontvangende nodus 'n ontvangserkenning terugstuur.

Die volgende logiese problem word dus oorkom met bogenoemde protokol: Nodus A kommunikeer met nodus B en nodus B kan weer kommunikeer met nodus C. Dit beteken dat nodus A mag dink die kanaal is oop terwyl nodus C besig is om uit te saai na nodus B. Die protokol soos hierbo beskryf stel nodus A in kennis dat nodus B besig is en daarom word daar gewag met die uitsaai van die datapakkie.


Developed by StudentB